Groep akteurs bemark teater uit ander hoek‘Plakkaat op paal lankal nie genoeg’

Originally published in the Volksblad Newspaper

PRESS RELEASE

Elretha Britz

“Wanneer ons ’n fliek gaan kyk, het ons reeds die onderhoude met die akteurs en die regisseur gesien en gekyk hoe die fliek gemaak is. Dieselfde is nodig vir teater: Mense moet by die voorbereidingsproses betrek word.”

Aan die woord is Mark Dobson, een van die vier lede van Vukallective. Hulle is jong Bloemfonteinse akteurs wat hul liefde vir die teater in dié kollektief uitleef, maar elkeen het ook ’n vaste werk. Al vier akteurs hoop natuurlik dié “liefde” sal so ontwikkel dat dit hul hoof-inkomstebron word.

Teater eindig vir hulle nie by die verhoog nie. Een van hul dienste is die bemarking van produksies, daardie werk waarvan min mense hou. Dis vir veral Dobson soms selfs lekkerder as toneelspel.

“Vir bemarking om impak te hê soek ek iets treffends in ’n produksie, ’n element waarmee ek kan speel totdat dit die maksimum trefkrag het. Dit plaas ek dan op sosiale media, wat ons natuurlik maksimaal gebruik. ’n Plakkaat op ’n paal is lankal nie meer doeltreffend genoeg nie.”

Die toneelstuk Sarah, een van vyf produksies wat hy vir die Vrystaat Kunstefees (18 tot 22 Julie in Bloemfontein) bemark, gaan oor die legendariese Sarah Baartman.

“Ek het besluit om op haar glansstatus te fokus. Daarvoor het ek glansfoto’s van Rondo Mpiti laat neem, die aktrise wat Sarah vertolk. Dié foto’s het ek as ‘voorbladfoto’s van ’n tydskrif’ gebruik en elke week ‘verskyn’ die ‘tydskrif’ met ’n ander ‘voorbladfoto’ van haar.”

Hy stuur dus weg van die gebruiklike onverkwiklike uitbeeldings van Baartman en sinspeel boonop met die S van Sarah op die S van die tydskrif Sarie.

Dié plakkaat het hy op Facebook, Instagram en die Vukallective-webwerf geplaas. Kort video’s van die repetisies en ander voorbereidings vir Sarah sal hy op YouTube plaas om mense se nuuskierigheid te prikkel en hulle op dié manier in te trek in die produksie.

Vir die vertoning AfriFolk van die Bloemfonteinse sanger-aktrise Nelien Smith het Dobson die plakkaatontwerp eenvoudig gehou om te kontrasteer met die besige fotomateriaal van die ander vrynge-produksies.

“Ek is só geïnspireer deur Nelien se Afrikaverhale dat ek selfs vir haar ’n shweshwemotief as bemarkingsmateriaal ontwerp het.”

Vukallective hanteer ook die bemarking van die dansproduksies In opstanding en Survive en hul eie opvoering, die drama Hedda, wat ’n moderne weergawe van Henrik Ibsen se klassieke tragedie is.

Die afgetrede dramadosent Stephanie Brink regisseer Sarah. Jan Brink het die teks geskryf en Dion van Niekerk, Danny Moleko en DeBeer Cloete voltooi die rolverdeling.

■ Sarah: 19, 20 en 21 Julie in die OFMAlbert Wesselsteater. R100.

■ AfriFolk: 17, 19 en 20 Julie in Innie Skuur. R90. Bespreek by Computicket.